Die grootste verskil tussen goeie en uitstaande maatskappye

Tom Gimbel 

Maandag, Maart 6th, 2017. Met erkenning aan SOLIDARITEIT waar die artikel eerste verskyn het!

Tom Gimbel

 

Daar bestaan baie goeie maatskappye. Hulle doen wat hulle sê hulle sal doen. Hulle beantwoord die telefoon wanneer ʼn kliënt bel. Hulle bied oplossings vir probleme. Hulle voldoen aan al die vereistes.

Maar goeie maatskappye sal altyd ʼn treetjie agter uitstaande maatskappye wees. Uiteindelik is “goed” ook nie meer goed genoeg nie en sal daardie maatskappye nie groei soos uitstaande maatskappye nie.

Uitstaande maatskappye is proaktief. Hulle is in voeling met hulle kliënte en weet van hulle probleme. Hulle bied idees en oplossings sonder dat hulle daarvoor gevra word. Hulle tel gereeld die telefoon op en reik uit. Hulle bied oplossings nog voordat probleme opduik.

Uitstaande maatskappye is opgebou uit toegewyde individue wie se doel dit is om te sorg dat hulle kliënte altyd tevrede is met hulle produk of diens.

Uitstaande maatskappye se werknemers vra hulle elke dag af of hulle alles wat moontlik is vir hul kliënte doen. En as hulle tekortskiet, vra hulle hulself af of hulle nie dalk met hulle bestuurder en kollegas moet kommunikeer sodat hulle as ʼn span die aandag aan hulle kliënte kan gee waarop hulle geregtig is nie.

Goeie maatskappye neem aan dat hulle kliënte tevrede is met hulle dienste. Uitstaande maatskappye vra, selfs al beteken dit dat hulle slegte nuus kan kry. Uitstaande maatskappye wíl die slegte nuus hoor.

Die beste maatskappye luister na terugvoering en reageer daarop. Hulle leer daaruit en verbeter hulle besigheid.

Uitstaande maatskappye het net een doel voor oë en laat nie toe dat hulle aandag daarvan afgelei word nie. Hulle is strategies. Werknemers van uitstaande maatskappye stel weeklikse, maandelikse en kwartaallikse keerdatums en hulle weet presies wat elke persoon in die maatskappy veronderstel is om te doen.

Uitstaande maatskappye het uitstaande leiers. Mense wat ander om hulle motiveer en verhoudings bou wat vertroue wek en oop kommunikasiekanale skep. Uitstaande mense wat ʼn kultuur van aanspreeklikheid skep en nie bang is om besluite te neem vir die beswil van hulle span en die maatskappy nie.

Uitstaande maatskappye neem risiko’s, wat dikwels beteken dat hulle kan faal. Maar wat hulle uitstaande maak, is hoe hulle op hulle mislukkings reageer. Hulle praat openlik daaroor in die hele maatskappy. Hulle leer. Solank die besluit goed bedoel was, raak hulle nie kwaad nie. Hulle waardeer werknemers wat risiko’s neem, want dit is wat die besigheid uiteindelik gaan laat slaag. Dit is wat op die ou end ʼn verskil gaan maak.

Om ʼn uitstaande maatskappy te wees, mag daar by jou kliënte geen twyfel bestaan dat jou organisasie die regte een is om mee te werk nie. Jy moet die ekstra myl loop om kompeterend te bly. Jy moet die regte leiers hê. Jy moet proaktief wees en kommunikeer en nie bang wees om risiko’s te neem nie.